User:ClarkFourie/sandbox
Sonop Tehuis | |
---|---|
Garribaldi, Sonop se amptelike "gelukbringer". | |
Ligging | |
Land | Suid-Afrika |
Provinsie | Gauteng |
Adres | 93 Murray straat, Brooklyn |
Meer inligting | |
Webwerf | www.sonop.org.za |
Kontak nommer | (012) 460 7830 |
Sonop Tehuis verskaf verblyf aan sowat 160 manlike studente wat studeer aan die Universiteit van Pretoria. Die opset van die koshuis verskil met die van ander TUKS koshuise, in die sin daarvan dat inwoners in klein huisies woon - in die Tehuis bekend as "mansjioene" (aflgelei van die engelse woord "mansions") - i.p.v. woonstelblokke. Die Tehuis word verdeel in 4 hoofstreke waar senior studente woon, nl. die "Weste" (bevat 'n sub-afdeling bekend as die "Verre Weste"), "Ooste", "Noorde" en "Sentraal". Die streeknaam dui die ligging van die streek aan relatief tot die "Stalle": die oudste gebou op die terrein asook die landmerk van Sonop Tehuis. Die "Stalle" dien as huisvesting vir eerstejaar studente, so ook die "Pastorie" (gelee in die "Noorde"). Die "Bloutrein" huisves eerstejaars asook "nuwelinge"(d.i. studente wat nie vanaf hulle eerstejaar in Sonop was nie). Verder beskik die Tehuis oor 'n biljardtsaal, tennis- en muurbalbaan, kombuis en eetsaal en selfs 'n klein informele gimnasium. Die aanhou van troeteldiere word ook in Sonop toegelaat.
Die geskiedenis en groei van Sonop
[edit]In 1916 het die gedagte om ‘n Christelike Tehuis vir studente van die Transvaalse Universiteitskollege op te rig, by prof. W.P. de Villiers, professor in Duitse Letterkunde, onstaan[1] Die sinode van die Nederduitse Gereformeerde Kerk het deur sy bemiddeling besluit om oor te gaan tot die stigting van sodanige Tehuis. Ses residensiële erwe in Brooklyn, tesame met die woonhuis van ene mnr. Archie Struben, is aangekoop teen R2 175 deur die NG gemeente van Pretoria. In 1917 het Sonop Christelike Tehuis met 40 inwonende studente geopen. Die eiendom is oorgedra aan die pas afgestigte NG gemeente Pretoria-Oos. Die eerste Sonoppers het R60 per jaar aan koshuisgelde betaal.[1] Tussen 1917 en 1920 is die eerste "mansjioene" oos van die "Stalle" gebou en in 1921 die eetsaal-kombuiskompleks asook die eerste drie mansjioene wes van die "Stalle". In die tydperk 1937 tot 1939 is die laaste agt mansjoene in die huidige "Weste" en die "Ooste" gebou. Vir ‘n tydperk in die vroegste jare is drie huise in Brooklyn gehuur as addisionele huisvesting – "Goedhalshuis" en "Ávondrust" in Andersonstraat en "Maiden’s Hope" op die hoek van Marais- en Williamstraat.[1] Nadat Sonop in die vroeë dertigerjare aan die Universiteit van Pretoria verkoop is, het die Kerk die Tehuis weer in 1939 teruggekoop. In 1941 is ‘n nuwe huisvaderswoning (die huidige "Pastorie") gebou. In 1942 die tennisbane en swembad (in 1960 weer opgevul) en in 1944 word die ou "Stalle" afgebreek om plek te maak vir die huidige "Stalle". In 1949 volg die fietsloods en motorhuis en in 1951 die Weste/Ooste se badkamers. In 1959-60 word die "Weste", "Ooste", "Stalle", die eetsaal en die badkamers gerestoureer.[1] Prof. Ben Marais word in 1957 verkies tot voorsitter van die Sonopraad. Prof. Marais is in der waarheid ‘n oud-Matie, maar word gedurende die dertigerjare op die Sonopraad verkies terwyl hy as studenteleraar dien. Hy is later professor in teologie en tree ‘n tyd lank op as dekaan van die Fakulteit Teologie. Later word hy ook emeritusprofessor aan TUKS en deeltydse dosent aan Unisa. Hy tree af as voorsitter van die Sonopraad in 1983. Sy huis is naby Sonop in Haystraat. Die opvolgende voorsitter is prof. JJ Geldenhuys wat destyds deel was van die Dept. Toegepaste Wiskunde by TUKS. Die huidige voorsitter is mnr. Danie Slabert.[2]
Die "Groot Trek"
[edit]Sonop het toe ook sy eie “Groot Trek” gehad toe al die huislede – op een uitsondering na – die Tehuis vir die duur van 1935 verlaat het. Die rede was dat die huisvader, prof. W.P. de Villiers, ‘n vurige republikein en nasionalis was. Die Groot Trek het egter ‘n lang aanloop gehad[3] In 1926 skenk Daan de Wet (die latere kabinetsminister) ‘n foto van genl. C.R. (Chrisjan) de Wet aan die Tehuis om in die eetsaal op te hang.[2] In 1929 word die Transvaalse Universiteitskollege (TUK) die eerste keer deur die destydse rektor, prof. A.E. du Toit, in afrikaans geopen. Hy pleit ook dat die TUK moet kies om in diens te staan van die plattelandse Afrikaanssprekende bevolking van Transvaal.[3] Prof. de Villiers, huisvader van Sonop, is diep getref deur die rektor se woorde en terug in die Tehuis sê hy aan die huislede: “Wat my betref moet ons hier in Sonop ook besluit om rigting te kies.” Hy wys na die foto van genl. de Wet teen die muur en vervolg: “U moet vandag besluit of u daardie foto wil laat verbrand as dié van ‘n verraaier, of hom laat bly hang as die portret van ‘n volksheld”. In 1930 slaag prof. A.E. du Toit se onvermoeide pogings om die Universiteitskollege selfstandig te maak toe die selfstandige Universiteit van Pretoria op 10 Oktober van daardie jaar tot stand kom. Dieselfde prof. Du Toit slaag ook in September 1932 daarin om die Universiteitsraad te oorreed om Afrikaans as voertaal van die Universiteit te aanvaar. In 1933 gaan dr. D.F. Malan in Sonop tuis tydens die Pretoriase Krugerdagvieringe. Dr. Malan se toespraak op Kerkplein het Sonop se huisvader weereens aangegryp en na aanleiding van dr. Malan se uiteensetting van wat ‘n republiek is, sê prof. De Villiers aan Sonoppers dat hulle Sonop voortaan as ‘n republiek moet beskou. Die idee kry stelselmatig gestalte in die gedagtes van die huislede. In 1934 moet prof. A.E. du Toit sy pos as rektor neerlê. Prof. D de Villiers, vir wie dit ‘n groot skok was, maak toe geen geheim van sy gevoelens nie, want vir hom was Prof. A.E. du Toit ‘n toonbeeld van die ware Afrikaner. Op 12 Oktober 1934 word ‘n petisie deur inwoners van die Tehuis aan die Senaat van die Universiteit voorgelê – daarin vra hulle vir die vergadering met die huisvader. Die volgende eise word gestel:
- Die studentegemeenskap van Sonop dring daarop aan om onder beheer van die Pretoria-Oos kerkraad uit te kom.[3]
- Die studente van Sonop Tehuis versoek dat prof. WP de Villiers sy betrekking as huisvader van Sonop laat vaar, omdat:
- Prof. WP de Villiers partypolitiek by die koshuislewe insleep (soos blyk uit die konsepkonstitusie wat hy aan die Tehuis voorgelê het), en hy besig is om kerksistiese diskriminasie onderling aan te hits (waar daar in Sonop nog nooit voorheen enige onderskeid getref is tussen die studente van verskillende kerkgenootskappe nie, is Dr. WP de Villiers ) besig om ‘n onderskeid en ‘n kerksistiese gevoel onderling aan te kweek.
Van die 44 inwonende Sonoppers het net twee nie die petisie onderteken nie. Lede van die huiskomitee moes voor die Universiteitsraad getuienis aflê. Nadat die sekretaris se getuienis nie die ander s’n ondersteun het nie, is die saak deur die Raad verwerp. Op ‘n koshuisvergadering dieselfde aand word die sekretaris as verraaier uitgekryt en besluit die huislede verder dat nie een van hulle in 1935 sou terugkeer, indien prof. WP de Villiers die volgende jaar nog huisvader is nie. Die gevolg is dat al die Sonoppers – op een uitsondering na – 1935 as vrywillige ballinge in Buxton-Tehuis deurgebring het. Toe prof. WP de Villiers boonop daarvan beskuldig word dat hy die teologiese professore van die Hervormde Kerk beskuldig van "kerksistiese stryd", besluit die Universiteitsraad op 22 Mei 1945 om prof. WP de Villiers te onthef van sy pligte as huisvader. Die uiteinde was dus dat die “Groot Trek” in 1936 beëindig is met die terugkeer van al die Sonoppers. Slegs drie persone het in die geskiedenis van Sonop die eer gehad om huisvader van Sonop te kan wees.[3] Daarna word mnr. A.C. Vlok as huisvader aangestel. Die laaste huisvader was prof. I.D. Bosman (in die amp van 1939 tot– 1947). Bosman was ‘n alombeminde huisvader. Hy is op 16 Maart 1947 oorlede. Hierna is daar nie weer ‘n huisvader aangestel nie tot die aanstelling van ds. Tonie Viljoen in 2010.[4] Voor dit het die Huiskomitee verantwoordelikheid geneem vir die Tehuis se bestuur en hierdie model van "selfregering" blyk deur die jare taamlik suksesvol te wees.
Sonop as republiek
[edit]Op 31 Mei 1955 is Sonop amptelik tot ‘n republiek verklaar. Hierdie gebeurtenis het wye publisiteit geniet.[3] Op 1 Desember 1954 word adv. Hans Strijdom die Eerste Minister van die Unie van Suid-Afrika. Hy is veral bekend vir sy republikeinse ideaal en het groot aanhang gehad in Transvaal – ook in Sonop.[3] Die gedagte aan Sonop as ‘n republiek het spontaan op 31 Mei 1955 ontstaan. ‘n Spesiale huisvergadering is vir dieselfde aand belê. Henno Cronje dien gevolglik die volgende mosie in: “Dat die huidige inrigting, bekend as die Sonop Tehuis van die Universiteit van Pretoria, uitgeroep word as ‘n volwaardige, onafhanklike republiek waaronder dit tot dusver geressorteer het, en dat die nuwe staat bekend sal staan as die "Sonop Republiek".[3] Die mosie is met 'n meerderheid stemme aanvaar. Die Sonopvlag en die Vierkleur is toe dadelik gehys op die "Stalle". Die Sonop Republiek se grondwet het slegs uit verskanste klousules bestaan. Slegs persone bo 18 jaar het het stemreg gehad terwyl alle besluite slegs met ‘n tweederde-meerderheid van stemme bekragtig kon word. Die grondgebied van die republiek het uit die koshuisterrein bestaan. Die sypaadjies is as mandaatgebied verklaar. Die uitbreiding van die grondgebied is gelaat tot ‘n latere stadium wanneer die republiek meer gevestig sou weeswas. Die huisvoorsitter en huiskomitee is vervang deur ‘n president en sy kabinet. Die eerste president was Andrée du Toit, huisvoorsitter van die vorige HK-termyn. Die kabinet is bygestaan deur die republiek se polisiemag wat voorheen die “Nagligte” (d.i. 'n tiepe straf van daardie tyd) of tug uitgedeel het. [3] Net mans kon burgers van die republiek word. Alle ander persone moes 'n wettige paspoort toon voor hulle toegelaat sou word binne die Republiek. Daar is besluit dat die Republiek binne die Statebond sal bly en dat daar gepoog sal word om betrekkinge aan te knoop met lande soos die Unie van Suid-Afrika. Die destydse Minister van Binnelandse Sake, mnr. Eric Louw wat op vertrek na die Verenigde Volkeorganisasie (VVO) gestaan het, is versoek om hierdie liggaam in kennis te stel van Sonop Republiek se ontrekking uit die VVO. Die Eerste Minister is in kennis gestel van die verwikkelinge in hierdie deel van die Unie. Hy, sowel as prof. H.C. Rautenbach, rektor van die Universiteit, prof. Ben Marais, mnr. Sidney Martin, voorsitter van die koshuisraad, en ds. Kobus Potgieter, studenteleraar, word as vryburgers benoem. Belasting in die republiek sou sewe sjielings en ses pennies per jaar wees. [3] Die bestaan van die Republiek was egter kortstondig van aard – slegs 22 dae! Een van die Republiek se klousules het tot die beëindiging daarvan aanleiding gegee. Hierdie klousule het bepaal dat daar op alle vreemde voertuie binne die Republiek se grense beslag gelê moes word. Op 22 Junie 1955 word ‘n Unieburger se voertuig dan op ‘n heeltemal wettige wyse gekonfiskeer.[3] Hy gaan bekla sy lot gevolglik by die Suid-Afrikaanse Polisie. ‘n Hooggeplaaste polisie-amptenaar is gelas om ondersoek in te stel. Op eie houtjie het hy toe die Republiek geannekseer. Sonop moes kies tussen bloedvergieting of oorgee. Daar is besluit op laasgenoemde aangesien te veel burgers verhoudinge gehad het met dames buite die republiek en aangesien Sonop nie oor ‘n baie doeltreffende weermag beskik het nie.
Drommedaris na Rhodesië
[edit]Gedurende die week van 28 Februarie tot 5 Maart 1966 het Sonop geskiedenis gemaak. Met twee fietse wat aanmekaar vasgesoldeer is, met plek tussenin vir ‘n 44-gelling drom, het die Sonoppers die grootpad na Rhodesië aangepak[5] Die doel was reklame en bewusmaking vir die 50-jarige feesvieringe van Sonop later daardie jaar, maar ook om aan Rhodesië Sonop se ondersteuning te toon met hul probleme. Hierdie ekspedisie is die veelseggende naam gegee van "Die Drommedaris". Fanus Rautenbach van die Suid-Afrikaanse Uitsaaikorporasie (SAUK) het die Dommedaris op Kerkplein afgesit en hulle vordering is elke dag oor die radio gevolg. In elke dorp is die Drommedaris met groot entoesiasme ontvang. ‘n Bedrag van R2 594,17 is ingesamel tot op Messina. Daar is die Drommedaris met petrol gevul.[5] Die televisie was ook teenwoordig. Die Drommedaris is anderkant Beitbrug deur die Rhodesiese komissaris, mnr. Tapson, ontvang. Hy het ‘n koperplaat aan Sonop oorhandig met ‘n afdruk van mnr. Ian Smith se gesig daarop, asook die woorde: “Rhodesië sê dankie, Sonop!”[5]
Fakkelloop na die Transkei
[edit]Gedurende 1976, die jaar waarin die Transkei onafhanklik geword het, het Sonop ‘n fakkelloop na die Transkei onderneem. Die vlam van volksvryheid en selfbeskikking is op 14 April 1976 deur minister Fanie Botha aangesteek in die Voortrekkermonument.[5]
Oom Gert en Garribaldi
[edit]Oom Gert is die Universiteit van Pretoria se “gelukbringer”. Hy is ‘n mensgrootte beeld van soliede hout en ‘n Kapenaar van herkoms. In 1932 het ‘n mnr. Van Erkoms, ‘n tabakhandelaar in Pretoria, hom gebruik vir reklamedoeleindes.[5] Oom Gert is egter deur die studente gekaap en van toe af het hy ‘n swerwersbestaan gevoer wat eers in 1950 beëindig is. Oom Gert het vroeg reeds sy draai in Sonop kom maak, nadat hy ‘n tyd lank in ‘n kolekamer in die landbougebou was. Kollege en Voortrekker - 2 ander manskoshuise van die Universiteit van Pretoria - het hom een aand probeer buitmaak, sonder sukses. Later slaag Onderstepoort daarin. Hulle bind Oom Gert vas met ‘n ketting aan sy regterhand. Sy hand word afgesaag en so word hy bevry. Die hand is egter later herstel. Vroeg in 1944 het Kollege dit reggekry om Oom Gert te ontvoer.[5] Damestehuis (Vergeet-my-nie) ontvoer toe vir Oom Gert. Daarna ontvoer Voortrekker ("Ta’ Kotie", nou Nerina) hom, en kort daarna weer Damestehuis.[5] Op 28 April 1950 ontvoer ‘n klomp Witsies (d.i. studente van Wits (die Universiteit van die Witwatersrand, in Johannesburg) vir Oom Gert. Sonop probeer tevergeefs om hom te bevry. Met die "Intervarsity“ dieselfde jaar, oorhandig Wits vir Oom Gert aan Sonop. Sedertdien is Sonop Oom Gert se woonplek. Oom Gert is tans deel van Sonop soos wat Oom Paul se standbeeld deel is van Kerkplein. Garribaldi met sy trotse houding en vasberade kyk, is Sonop se “gelukbringer”. Die vermoede bestaan dat hy as “gelukbringer” deur 'n plaaslike boksklub gebruik is, voordat hy ‘n Sonopper geword het.[5]
Die Bollietrollie
[edit]In 1980 het die bekende regisseur Jan Scholtz ‘n fliek genaamd “Kiepie en Kandas” vervaardig.[6] Baie van die tonele daarin is in Sonop verfilm. Die hoofkarakter, Kandas, se motor is 'n rooi Volkswagen minibus waarvan die boonste helfte "afgesny" en die vier passasiersitplekke met toilette vervang is. Die woorde "... en betaal is die Wet van Transvaal" verskyn op die agterste bakwerk en die bussie word later deur Sonoppers as "Die Bollietrollie" gedoop. Na afloop van die film se vervaardiging, skenk Scholtz die voertuig aan Sonop en sedertdien word dit gebruik as ampsmotor van die huiskomitee (vir gebruik met spesiale en amptelike geleenthede).
Tradisies
[edit]Eerstejaars
[edit]'n Sonop eerstejaar dra 'n vol pak wanneer hy die Tehuis verlaat tot die dag wat jy jou laaste eksamen van jou eerstejaar skryf. Tot dan word daar verwag dat 'n eerstejaar sal bedien tydens die daaglikse middag- en aandetes. Dit word vereis van 'n eerstejaar om seniors se borde weg te dra, hulle glase vol water of koeldrank te hou asook om boodskappe tussen seniors te versprei. Elke eerstejaar moet ook 1 uur 'n week in 'n senior se tuin spandeer om tuindiens te doen. Wanneer jy die einde van jou eerstejaar bereik, spring 'n eerstejaar - met sy vol pak - in die dammetjie voor die Ou Lettere gebou op kampus. Eers dan is 'n eerstejaar onthef.[7]
Sonoppie
[edit]Daar word jaarliks 'n kort wedloop deur die hele Sonop Tehuis aangepak - beter bekend as die Sonoppie.[2] Die roete is elke jaar dieselfde en die dames saam met wie Sonop JOOL sorg gewoonlik vir 'n waterpunt. Die afstand van die wedloop is sowat 7.8 km. Die wenner se naam en tyd word op 'n trofee gegraveer. Die huidige rekord is in 1996 opgestel deur De Witt Oosthuizen met 'n tyd van 00:20:54.[8]
Eksamen vlugbal
[edit]Gedurende eksamentyd word daar voor en na etes vlugbal tussen streke en jaargroepe gespeel.[2] Hierdie genotvolle aktiwiteit dien as 'n studie breuk vir die studente.
Senior deur en senior banke
[edit]Daar is 'n spesiale deur na die eetsaal, slegs vir die gebruik van derdejaar studente of ouer inwoners wat alleenlik daar mag deur stap.[2] Dieselfde geld vir die banke in die biljardtsaal waarop slegs vierdejaar studente en ouer mag sit. So is daar elke jaar iets nuuts om na uit te sien.
- Wyle Frans Venter het 13 jaar in Sonop gebly.
- Die eerste kennisgewingbordjie in Sonop verskyn in 1936 voor kamers 71 en 72, aangebring deur Gustav Pfeil en Koos van Eeden. Daarop het gestaan “BLOSSOM’S DELIGHT” – blykbaar omdat die twee manne die mees ongewilde inwoners was in die oë van “Blossom”, die destydse Nonnie (d.i. Sonop se eienaam vir die hoofde van die kombuispersoneel). Daar is tans meer as 500 bordjies in Sonop, o.a. “DIE BRITSE AMBASSADE” en die bordjies word as deel van die argitektuur beskou.
- Hannes de Beer sorg dat Sonop die eerste koshuis aan UP is wat ‘n TV-stel besit.
- Die Sonopvlag word in 1976 amptelik in gebruik geneem.
- Weens die toestand van die geboue teen daardie tyd, word die Sonop restourasiekomitee in 1976 gestig, met ds. Kobus Potgieter as voorsitter. Om Sonop se behoud te versterk, het die komitee oor ‘n tydperk van 10 jaar feitlik die hele Tehuis gerestoureer teen ‘n bedrag van ±R30 000. Oud-Sonoppers het die grootste deel daarvan bygedra.
- Die eerste Sonop-Dagbreek verskyn in 1979. Die Dagbreek is die amptelike jaarblad van die Tehuis en bring hulde aan die jaar se deelnemers, hetsy sport, kultuur, akademie of JOOL.
- Jool-blikboukompetisie 1980: Sonop stapel 48 opmekaar.
- Twee bobbejane het in Sonop gewoon:
- 1975 – Nantie II
- 1982 – Swapo
- Sonop beskik oor 11 Pierneef skilderye.
- Koerantopskrifte soos “TUKKIE MANS MORS MET MEISIES” asook regstappe teen Sonop, volg op ‘n “raid"(d.i. stort van dames met ‘n gruwelike brousel van onbekende substansie indien hulle motors se toeters druk voor Sonop) in 1985. Die saak word teruggetrek en die tradisie gaan voort.
- Sonop beskik oor die volgende videomateriaal:
- Die Bollietrollie in die rolprent Kiepie en Kandas.
- ‘n TV-onderhoud met minister Pik Botha oor sy Sonopdae.
Verwysings
[edit]- ^ a b c d Sonop Argief Joernaal 1.
- ^ a b c d e Persoonlike ervaring, 2010 - 2014.
- ^ a b c d e f g h i j Sonop Argief Joernaal 2.
- ^ Onderhoud met huidige huisvader ds. Tonie Viljoen
- ^ a b c d e f g h Sonop Argief Joernaal 3.
- ^ Kiepie en Kandas DVD
- ^ Persoonlike ervaring, 2010.
- ^ Sonoppie trofee geskenk deur SAM de Beer 14 September 1996
- ^ Raar maar Waar pamflet vanuit Sonop Argief
Category:Residential college Category:Educational institution